Prokureurs sedert 1970
Nuusbriewe

DIE VOORDELE EN GEVARE WAT ‘N SEKURITEITSKOMPLEKS INHOU: DIE KOMPLEKS SE HEFFINGS IS OP DIE SPEL

Sekuriteitskomplekse bied beduidende voordele aan hul inwoners, solank as wat die huiseienaarsvereniging wat hierdie komplekse bestuur, finansieel gesond is en gesond bly. Die heffings van eienaars finansier ‘n kompleks se gemeenskaplike uitgawes. ‘n Suksesvolle huiseienaarsvereniging sal dus toesien dat lede se heffings stiptelik ingevorder en ontvang word.

Die huiseienaarsvereniging word gewoonlik ook beskerm deur voorwaardes in die titelaktes van die eiendomme wat alle eienaars verplig om -

  1. Aan te sluit as lede van die huiseienaarsvereniging en om deurentyd hul lidmaatskap te behou. Eienaars is outomaties gebonde aan die huiseienaarsvereniging se grondwet (wat spesifieke reëls en regulasies bevat wat stiptelike betaling van heffings vereis); en
  2. Voordat eiendomsoordrag kan geskied, moet ‘n verkoper ook ‘n Uitklaringsertifikaat van die betrokke Huiseienaarsvereniging bekom, wat uitdruklik sertifiseer dat alle heffings van die eiendom tot op datum ten volle vereffen is. Die voornemende koper sal ook verplig word om gelyktydig met oordrag en eienaarskap, outomaties ‘n lid van die huiseienaarsvereniging te word.
Prakties gesproke behoort enige uitstaande heffings dus ten volle betaal te word, alvorens enige oordrag van eienaarskap kan plaasvind.

Wat dan van die geval waar ‘n huiseienaar se boedel gesekwestreer word (of indien die eienaar ‘n regsentiteit is, gelikwideer word)? Die eiendom is ‘n bate in die boedel en die aangestelde trustee of likwidateur word regtens verplig om al die bates ten gelde te maak. Uitstaande heffings geniet ‘n konkurrente eis teen die boedel. Of die likwidateur / trustee die uitstaande heffings betaal al dan nie, sal oordrag na die koper wel kan plaasvind, sonder sodanige uitklaringsertifikaat. Die uiteinde is dan dat jy en die ander eienaars in die kompleks sodanige tekorte sal moet aanvul om die huiseienaarsvereniging se begroting te laat klop.

Uiteenlopende hofsake: Is die Huiseienaarsvereniging dan op risiko?

‘n Uitspraak van die Hoë Hof in Maart vanjaar sou aan huiseienaarsverenigings die nodige gerusstelling gegee het met ‘n bevinding dat agterstallige heffings altyd vereffen moet word, alvorens die eiendom regtens oorgedra kan word. In Junie het een van die ander afdelings van die Hoë Hof egter tot die teendeel bevind. Die situasie is dus glad nie duidelik nie. Hier kan beduidende bedrae ter sprake wees, wat ‘n wesentlike impak op enige huiseienaarsvereniging se finansies kan hê. In die tweede geval hierbo waar daar teen die Huiseienaarsvereniging beslis is, was die agterstallige heffings op die eiendom ‘n stewige R426 000 (plus regskoste). Die hoogste aanbod wat die trustee vir die huis kon kry, was maar R700 000 en die huis is vir hierdie prys verkoop.

Dit lyk of die tweede uitspraak op appèl geneem word en die uitwerking daarvan is gevolglik vir eers opgeskort. Totdat die Hoogste Hof van Appèl ‘n finale beslissing hieroor maak, moet huiseienaarsverenigings dus aanvaar dat hul op risiko is. Hulle moet dus seker maak dat -
  • Alle heffingsrekeninge wat agterstallig raak, dadelik geïdentifiseer word
  • Die invorderingsprosedure ‘n aanvang neem, gevolg deur gepaste regsstappe, indien nodig.

DIREKTEURE DEEL 1 – JOU PLIGTE EN RISIKO’S

Die nuwe Maatskappywet het in 2011 in werking getree en dit het beduidende risiko’s vir direkteure meegebring. Direkteure se risiko om persoonlik aanspreeklik gehou te word vir enige verlies, skadevergoeding of kostes wat opgedoen word as gevolg van hul handelinge of nalatigheid, het aansienlik verhoog.

Dit is ook nie net jou mededirekteure wat jou aanspreeklik kan hou nie. Aandeelhouers, werknemers en vakbonde kan jou ook aanspreeklik hou. Enige van hierdie groepe sal, in gepaste gevalle, die maatskappy kan dwing om teen jou op te tree.

Die risiko is hoog. As direkteur is dit belangrik dat jy hierdie blootstelling verstaan, dit bestuur en natuurlik ook probeer om dit te beperk.

Jy moet eerstens vasstel of jy wel ‘n “direkteur” is

Dit is uiteraard belangrik. Selfs al word jy nie op die maatskappyrekords of briefhoof formeel aangedui as ‘n aangestelde direkteur nie, mag jy nog steeds op risiko wees. Volgens die wet sluit “n “direkteur” enige iemand in wat ook die posisie van direkteur beklee, of hy of sy nou die formele titel van direkteur het, of nie. Hierby word persone ingesluit soos alternatiewe direkteure, raadslede, lede van die ouditkomitee en selfs “voorgeskrewe amptenare” (breedweg, senior bestuurders en amptenare met ‘n sekere vlak van bevoegdheid en funksies). Let ook daarop dat die wet regtens geen onderskeid tref tussen uitvoerende en nie-uitvoerende direkteure nie. Nie-uitvoerende direkteure moet hulself dus ten volle op hoogte bring en deurentyd op hoogte bly met die maatskappy se sake en bedrywighede.


Jou pligte

‘n Direkteur se pligte is uiteenlopend en omvattend. Die wet vereis kortweg dat -

  • Jy streng binne die perke van jou magtiging en mandaat moet bly en slegs ooreenkomstig die wet asook die maatskappy se akte van oprigting mag optree.

  • Jy nie mag deelneem of toelaat dat die maatskappy of die sake van die maatskappy op roekelose, growwe nalatige of bedrieglike wyse bedryf word nie.

  • Jy nie ‘n party mag wees tot enige handeling of versuim met ‘n bedrieglike doel nie.

  • Jy geen misleidende finansiële state of inligting mag afteken nie.

  • Jy jouself duidelik moet uitspreek en jy formeel moet stem teen enige voorgestelde aktiwiteit wat jy van mening is verbied word, soos byvoorbeeld die uitkeer van dividende wat die maatskappy sal benadeel of die ongemagtigde uitreiking van aandele.

  • Jy mag nie jou posisie as direkteur misbruik nie. Jy mag ook nie enige binne-kennis wat jy gedurende jou ampstermyn van die maatskappy se sake verkry, vir jou eie of ‘n ander persoon se gewin gebruik nie, tot die nadeel van die maatskappy.

  • Jy mag ook nooit willens en wetens op enige wyse skade aan die maatskappy aanrig nie.

  • Jy moet die maatskappy op hoogte hou van enige relevante inligting waarvan jy bewus word.

  • Jy moet altyd:

    • In goeder trou en vir ‘n behoorlike doel optree;
    • In die maatskappy se beste belang optree;
    • Met die mate van sorg, vaardigheid en optree wat van ‘n direkteur in jou posisie verwag en vereis kan word.



DIREKTEURE DEEL 2 – HOE OM JOU AANSPREEKLIKHEID TE BEPERK


“The biggest risk is not taking any risk... In a world that’s changing really quickly, the only strategy that is guaranteed to fail is not taking risks.” (Mark Zuckerberg, Facebook se stigter)
Swak besluite is ‘n onvermydelike deel van enige sake omgewing. Daar gaan tye wees wanneer jy ‘n swak besluit sal neem of wanneer jy sal saamstem met ‘n swak besluit wat jou raadslede geneem het. Dit verhoog dus jou risikoprofiel vir persoonlike aanspreeklikheid.

Wat moet jy bewys

Om aanspreeklikheid vry te spring, moet jy kan aantoon dat jy eerlik en redelik gehandel het en dat jou besluite rasioneel en ingelig was. Behoorlike notulering en rekordhouding is hier dus noodsaaklik. Jy moet veral kan aantoon dat –
  • Jy redelik en deeglike stappe geneem het om jou ten volle met die feite van die saak te vergewis. Indien jy bewus moes wees van die saak, kan jy jou dus nie op jou onkunde daarvan berus of as ‘n verweer opper nie.
  • Jy voldoen het aan die wet se vereistes rakende die openbaarmaking van enige persoonlike finansiële belange in die saak.

  • Jy rasionele gronde gehad het om te glo, en jy het dit ook geglo, dat die besluit of besluite in die beste belang van die maatskappy was.
Jy kan jou ook nie blindelings op werknemers, interne komitees en eksterne professionele adviseurs verlaat nie. Jy moet redelikerwys glo dat sulke persone betroubaar en bevoeg is om jou van die nodige advies en inligting te kan voorsien.

Om af te sluit, jou eerste wapen is om seker te maak dat jy ten volle op hoogte is met die aard en omvang van jou pligte en dat jy ten alle tye ywerig, redelik en eerlik moet optree. Indien jy enigsins hieroor twyfel, verkry professionele advies.

Versekering en vrywaring

Jy het ook beskerming nodig in die vorm van skadeloosstelling deur jou maatskappy teen moontlike eise wat teen jou persoonlik ingedien word. Kry ook versekeringsdekking vir beide jou persoonlike aanspreeklikheid asook die van die maatskappy teen gepaardgaande uitbetalings en uitgawes. Hierdie dekking moet omvattend en voldoende wees en moet ten volle tot voordeel van die maatskappy benut word.

Let daarop dat die maatskappy jou nie teen alles kan vrywaar of verseker nie. Daar is wel beperkings en spesifieke uitsluitings waarteen jy, heeltemal tereg, nie vrywaring kan kry nie. Dit is vir eise wat spruit uit opsetlike wangedrag, opsetlike trouensbreuk, handelinge wat buite jou magte strek, asook enige gevalle van onwettige handel of bedrieglike handelinge of versuim. Jy moet seker maak dat die maatskappy se akte van oprigting en reëls nie verdere tipes dekking verbied nie. Let ook daarop dat, op ‘n paar uitsonderings na, ‘n maatskappy nie die boetes wat ‘n direkteur in sy persoonlike hoedanigheid opgelê word, mag betaal nie.



IS JY DIE SLAGOFFER VAN ‘N MISDAAD? DWING DAN JOU REGTE AF

As ‘n slagoffer van misdaad het jy (ten minste op papier) sekere verhaalsregte. Dit word uiteengesit en is beskikbaar as die Slagoffershandves soos uiteengesit op die Nasionale Vervolgingsgesag se webwerf http://www.npa.gov.za/files/Victims%20charter.pdf. Jy sal egter van jou kant af self stappe moet neem om jou regte af te dwing.


Jy het ‘n reg om deur die misdadiger vergoed te word

Een van jou regte is om vergoed te word vir enige skade wat die misdadiger aan jou eiendom aangerig het of vir die verlies van jou eiendom. Indien die Hof tot die oortuiging kom dat die misdadiger in staat sal wees om jou te kan betaal, het die hof twee opsies.

  1. Die hof kan ‘n vereiste stel dat betaling eers moet geskied, voordat opskorting (of gedeeltelike opskorting) van enige gedeelte van die vonnis in werking kan tree. Vergoeding kan of in ‘n enkelbedrag of in paaiemente gedoen word en dit behoort ook ‘n sterk aansporing vir die misdadiger te wees om jou te betaal. Die Hoë Hof het ook in ‘n onlangse uitspraak bevestig dat betaling in paaiemente dikwels verkieslik is. Dit is in gevalle waar die misdadiger geen of minimale bates besit nie, wel in diens is, ‘n vaste inkomste daaruit verdien en in staat is om ‘n vergoedingsbedrag in paaiemente te betaal.

  2. In die alternatief, sou die hof ook ‘n vergoedingsbevel kon maak, wat jy as die begunstigde van die bevel, as ‘n siviele vonnis teen die misdadiger sou kon uitwin en afdwing.
Neem egter alle faktore in ag en verkry vooraf die nodige advies. Jy wil byvoorbeeld nie die risiko loop dat jou versekeringseis vir jou skade nou in gedrang kom nie. As ‘n reël behoort jy ook eerder te kyk na opsie 1 hierbo in plaas van opsie 2. Soos die Hof dit ook meld, stel uitwinning en eksekusiestappe teen die misdadiger se bates, jou weer bloot aan verdere regskostes, baljukostes en ook aan verdere stres en moeite.

Moet nie die bus verpas nie

Onthou dat jou aansoek om vergoeding reeds voor vonnisoplegging ingedien moet word. Jy sou jou versoek persoonlik aan die hof kon rig, maar dit is beter dat jy dit eerder vroegtydig deur jou prokureur en / of die aanklaer laat doen.




DIE SEPTEMBER WEBWERF: KOORDLOSE KUBERKOLLE (“WI-FI HOTSPOTS”)

“Wat kyk jy, pappie!?”

Met vandag se steeds groeiende internet bedrog kan mens nooit te versigtig wees nie. Enige iemand wat ‘n openbare kuberkol gebruik of gaan gebruik of gereeld gebruik (dink maar aan ‘n restaurant of koffiekroeg of biblioteek of kampus of lughawe) behoort die artikel van PC World hieroor te lees. Die artikel is: “Here's what an eavesdropper sees when you use an unsecured Wi-Fi hotspot” en dit is beskikbaar te http://www.pcworld.com/article/2043095/heres-what-an-eavesdropper-sees-when-you-use-an-unsecured-wi-fi-hotspot.html.

Die skrywer van die artikel in PC World het met sy skootrekenaar en met sy slimfoon by ‘n plaaslike koffiekroeg gaan sit om ander klante se elektroniese kommunikasies waar te neem en te onderskep. Sy doel was net om te sien wat daar te siene was, wat dalk vir ‘n professionele kuberkraker toegang tot sensitiewe inligting kan gee. Hy berig dat hy sonder veel moeite, die ander gebruikers (van slimfone, tablette en skootrekenaars) se vertroulike inligting kon waarneem en onderskep, waaronder-

  • Webblaaie wat besoek was
  • E-posse
  • FTP aanteken wagwoorde (dink ook bankrekeningbesonderhede!)
  • Inligting oor private sosiale netwerke en e-posverskaffers soos Gmail, LinkedIn, Yahoo en Facebook (‘n ideale kapingsgeleentheid vir ‘n kuber-bedrieër)
Lees gerus die volledige artikel vir meer inligting. Die artikel maak ook aanbevelings en gee ook raad oor hoe mens die internet veiliger kan gebruik. Die aanbevelings verskyn in die laaste paragraaf wat begin met “How to use Wi-Fi hotspots securely”.



 

Kennisgewing: Kopiereg in hierdie publikasie en die inhoud daarvan vestig in DotNews - Sien Kopiereg kennisgewing hieronder.

Email : mblh@mblh.co.za   Tel: +27 (0)21 840 8000



WebDzine